10 Interressante vrae - Junie 2001

1. Beskryf jou gevoelens wanneer jy optree om 'n nuwe CD bekend te stel, en die gehoor dring aan dat jy Sewe sakke sout moet sing. (Anette van den Berg)

A: "Ek is gelukkig om nie te hoef te worstel met 'n behoefte om ten alle koste weg te breek van my vroeë werk nie. Uiteraard, wanneer 'n nuwe CD die lig sien - soos tans die geval is - staan die nuwe liedjies in 'n besondere opwinding en fokus. Tog is dit vir my 100% wanneer mense deur die roete van my vroeë werk, die nuwe paaie saam met my kan aandurf. Ek sal egter tog selektief kyk na die gehoor en geleentheid voordat ek lostrek met versoeke!"

2. In 1991 het jy by 'n konsert agter 'n stel dromme ingeskuif en gespeel. Waar kom dié talent en liefde vandaan en speel jy nog gereeld? (Nellie Lourens)

A: "Ek het vir 15 jaar ononderbroke met 'n orkes opgetree en vir meer as 11 jaar daarvan, met George Enslin as my trommer. Ek is mal oor ritme en saam met George het ek 'n paar basiese beginsels opgetel en ingewerk. Feestelik! As gevolg van 'n skouerbesering speel ek deesdae min, maar my tromstel staan opgestel in my musiekkamer, enige tyd reg vir aksie."

3. Jy was 'n uitestekende atleet wat Noord-Transvaalse kleure in o.a. spiesgooi verwerf het. Wat verg die meeste toewyding en opoffering - 'n musiek- of sport-loopbaan? (Jan-Willem Thirion)

A: "Die oorskakeling van sport na sang was vir my maklik, juis omdat daar groot ooreenkomste is tussen die twee dissiplines. Die verhoog is enige dag net so uitdagend soos die sportveld - jy't ook net een kans om jou beste te lewer en sang is verbasend fisies: jy moet fiks wees! Jy het onder meer ook 'n sterk verbintenis en geestesgreep nodig vir beide sport en sang: dit help nie jy knak onder spanning of terugslae nie. 'n Groot voordeel van musiek is dat mens jare der jare daarmee kan voortgaan, wanneer sportdae verby gegaan het."

4. Het jy dit al oorweeg om 'n Harley-Davidson motorfiets aan te skaf? Indien wel, wat sou jou persoonlike slagspreuk agter op jou leerbaadjie wees? (Ria v Heerden)

A: "Hoewel 'n mooi motorfiets 'n lus is vir die oog, lê my groot liefde by motors. Voordat ek 'n Harley koop, bou ek eerder 'n skuur vir 'n versameling motors - van piepklein tot groot en van oud tot nuut!
My slagspreuk op 'n leerbaadjie? Hoe klink "WIE RY SAAM", of "WYS MY DIE PAD", of "BLY NET VOOR", of "NET DIE WIND WEET" , of... Ek sal moet belê in leerbaadjies!"

5. As jy sou lus kry vir 'n tatoeëermerk, op watter motief sou jy besluit en waar sal jy dit laat aanbring? (Ria v Heerden)

A: "'n Dolfyn, in die middel van my lae rug, sodat hy iets het om oor te spring!"

6. Het jy al enige ondervinding van depressie gehad en hoe het jy dit hanteer? (Christa Bester)

A: "Ja, as gevolg van gesondheidsprobleme het ek vir etlike jare baie geïsoleerd en onbereikbaar geraak. Ek het lank geworstel en hard gewerk om denkpatrone van vermoeienis te herprogrameer en selfvertroue en krag te herstel. Genadiglik het ek 'n vrolike gees en my gesin en vriende was vir my 'n onmisbare vangnet. Ek lees baie graag oor die brein, denke en sielkunde - boeke is fonteine van wysheid (hier en daar ook nonsens - solank mens kan onderskei!). Dan, bo en onder alles, definieer geloof en hoop my bestaan en dankbaarheid is die sleutel van my lewe.

7. Wat is die voorval wat op die verhoog gebeur het wat jou die meeste in die verleentheid gestel het, of die voorval wat jy die langste sal onthou? (Sarel Wolmarans)

A: "Die verhoog is 'n genadelose ruimte wat 'n blabs sommer dadelik onder 'n vergrootglas plaas. TALLE stukke teespoed het my al tydens vertonings getref, van kragonderbrekings tot 'n liriek wat botweg weier om onthou te word; van klankmanne wat ALS belemmer met swak klank tot 'n skoen wat in 'n gaping in die verhoog vashaak en rotsvas daar bly sit! Hieroor kan ek 'n opstel skryf! Net soos verleenthede, is hoogtepunte gelukkig volop en van veel groter waarde. My optrede in St. Petersburg, Rusland, waar ek Suid-Afrika in Afrikaans kon verteenwoordig by die White Nights Festival, is een van die helderste herinneringe.

8. Hoekom is jy nog nie getroud nie? (Karel Nel)

A: "Ek sing voltyds vandat ek 18 is, wat gesorg het vir 'n ander lewensritme en -inkleding. Die kere wat ek gevra is om te trou vroeër in my loopbaan, was my hele lewe 'musiek' en ek het besluit om te wag. Vandag leef ek voluit, is ek diep gelukkig en - wie weet wat nog kan gebeur..."

9. Wat inspireer jou? (Marge Cameron)

A: "Ek put steeds geweldig baie vreugde, troos en inspirasie uit die natuur in al sy fasette - stilte én storm.
Die mens en ons lewens in terme van tyd, keuses, geloof, hoop en liefde, vind ook deurlopend hulle weg na temas waaroor ek die graagste skryf."

10. Wat prikkel jou belangstelling in 'n liedjie as dit van 'n onbekende liedjieskrywer kom? (Veronica du Plessis)

A: "Met die eerste hoor van 'n liedjie is woorde vir my deurslaggewend. Selfs as die melodie my aangryp, maar die woorde kom nie by nie, sal die liedjie moet oorstaan. Dit wat ek sê en kommunikeer in sang is vir my baie belangrik. Dit gaan oor ontasbare dinge, atmosfeer of ritme... 'n totaal emosionele reaksie. Dan eers tree die logiese, ontledende filters in om finaal op te weeg en te kies."

'n Vyfpuntplan vir vreugde

  • Ek ontken nie my tjoepstildae, wegraakdae of swaarkrytye nie.
  • Ek beskou my nie as 'n verlengstuk van enige mens, saak of gebeurtenis nie. Om jouself te verloor wanneer 'n mens, saak of gebeurtenis jou ontsaglik seermaak of verinneweer, is veel moeiliker wanneer jy jou waarde in genade en geloof besef en dááruit leef. Werk in geloof daaraan om self 'n klein kragbron te word, eerder as om te funksioneer asof jy slegs 'n kragprop is wat by iets of iemand moet inprop voordat jy iets beteken.
  • Ek bly dankbaar vir die massas genades - al is dit op die oog af hoe klein en alledaags - op die lewenspad.
  • Ek glo onwrikbaar dat mens deur genade altyd weer kan opstaan en ek dra 'n inherente vreugde in my.
  • Geloof - geloof! - en glo in die krag en liefde van Jesus Christus.

Het jy geweet?

1 Ek word dikwels die wandelende apteek genoem deur my span en vriende, want ek het altyd 'n raat, of pilletjie, of plan byderhand om mens en dier te probeer help!

2 Ek is mal oor.... Hoenderpastei en pannekoek, sodawater, cappucino, kruietee, Freuden- of Rosenlese Boeke, grafiese ontwerp en argitektuur,
musiek, aronskelke, rose en swaardlelies, goeie flieks (maar NIE horror-movies nie!), die Tuinroete, omdat ek die Suid-Kaap ken en liefhet en
Gadgets - simpel of slim, maak nie saak nie

3 Ek hou niks hiervan nie... Spinnekoppe, muskiete en slange, swak bestuurders en spoedhobbels, lekkende dakke en wanorde, venyn, bitsigheid, skinder en wreedheid in enige vorm