CD's - Meer en meer

MEER en MEER is in 1996 uitgereik, 4 jaar na DAAR'S MUSIEK en die groot rede vir die verloop van tyd, was toe uiteindelik om die gesigspyn wat my sedert 1988 laat swaarkry het, 'n nekslag te probeer toedien.

My byt se "balansering en sporing" was geheel en al uit en ek is dwarsdeur die prosedure van draadjies, asook 'n ekspanderings- veer in my verhemelte! Die gevolg was dat ek vir bykans 18 maande nie kon optree nie en dat opnames ook noodwendig moes oorstaan.

Uiteindelik is opnames begin vroeg in 1996 en kon ek sommer lostrek met die heerlike liedjie Meer en meer, wat geskryf is deur Fredi Nest. My sanglitte kon ook weer bietjie oefening kry met een van die mooiste ballades wat ek nog ooit kon opneem Hier by jou, terwyl Jy is aan my kant my ook baie na aan die hart lê. Miskien kan ek op 'n goeie dag Jy is aan my kant weer opneem, want tyds-krisisse, 'n ontydige verkoue en mengprobleme het die liedjie nie tot sy reg laat kom nie.

'n Skreeusnaakse insident het hom afgespeel tydens die TV onderhoud, wat Elsabé Daneel (bekwaam en stylvol soos altyd) met my gevoer het. Soos in die vroeër dae toe ons nog dikwels geleenthede gehad het om op TV te verskyn, het ek vrolik gepiekel na die SABC, opgewonde om na 'n stilte van 4 jaar weer 'n kansie te kry. Ek het moeite gedoen met my voorkoms, maar dit was alles verniet, en die grimeerkunstenaar het my summier beetgepak met als wat mooi maak. Ek het opgelet dat sy redelik kwistig met die oogomlyner te werk gegaan het, maar was te benoud om te protesteer. Met die lang gang af na die ateljee het my oë begin branderig voel, maar ek het dit toegeskryf aan die lugverkoeling en niksvermoedend plaasgeneem vir my onderhoud.

Teen Elsabé se derde vraag was die vet in die vuur en het veral my regteroog onbedaarlik begin brand en traan. (Ek moet byvoeg dat hierdie 'n lewendige opname was - daar was geen genade nie!) Daar sit ek toe voor die volk met 'n vreeslike allergie vir die oogomlyner en probeer my bes om deur die lag en trane intelligent te antwoord op die vrae!

Ek moes na die tyd (en nadat die gewraakte middel verwyder is), verneem dat mense verbaas was dat ek SO bly was oor my nuwe album dat ek in trane was, en 'n klompie met toe ore was selfs oortuig dat ek 'n siekbed tegemoet gaan en die volk 'gegroet' het!