CD's - Seënbede

Vir meer as 8 jaar is ek reeds betrokke by geestelike programme, veral Paas- en Kersgeleenthede. Ek het al heerlik saamgewerk met Prof. Teunis Botha, een van ons land se mees begaafde woordkunstenaars, asook Innes en Greta Benadé.

Liedjies, idees en wense was nog onder die strooi, toe ek die wonderskone melodie van “Halleluja” in 2000 hoor. Die ontstaan van hierdie lied was die begin van die vaste pad na die geestelike album, en gedurende die eerste maande van 2003 was ek terug in die opname ateljee by PROTRAX.

Juliet Schutte was verantwoordelik vir die beeldskone verwerkings. Christie, wat ”Neem ons bede aan” verwerk het, was weer die opname ingenieur, harmonie – en vokale regisseur. Was dit nie vir sy moed en vernuf nie sou ek nie die strawwe sessies kon deursien nie, want ‘n ontsaglike blok het aan my krag en gesondheid gerem. Helfte van die liedjies het ek opgeneem midde brongitis. Trigeminale Neuralgie (wat eers korrek gediagnoseer is in Feb van hierdie jaar) het soos die afgelope 16 jaar erge gesigspyn veroorsaak, wat weer spierspasmas tot gevolg gehad het, ens ens. Etlike kere het ek gedink dat ek nie sou slaag nie, nie sou klaarkry nie, nie sou kon nie.

So het gebede en bemoediging van my naaste kring, sms’e van liefdevolle vreemdelinge, en boodskappies vanuit die niet, die Genade van die Here tot in my gedra, en is die album voltooi.

Daar is skaars woorde om hierdie dankbaarheid uit te spreek teenoor die Here, en tot elkeen wat my gedra het in hulle gedagtes en gebede.

Ek het etlike van die onvergeetlike sms’e ge’save’in my árchive’ (hoe sê mens dit in Afrikaans? Maar nou-ja, daar’s hoeveel goed wat mens weer net in Afrikaans kan sê!), en wat ek sal oordra na elke selfoon‘upgrade’. Sekere tye – as mens dit kan anker aan die beste wat mense het om te gee – mag mens maar lewenslank onthou, al was daardie tyd ook hoe swaar.

Een van my mees geliefde gesange wat ek onthou uit my prille jeug (en wat deel uitmaak van die “Jesus min my Keurspel”), is

“Prys die Heer met blye galme, o my siel daar’s ryke stof

Sal solank ek leef my p’salme vrolik toewy aan Sy lof

En Hom wat Sy guns my bied, altyd grootmaak in my lied!”

In April het ek die breinchirurgie ondergaan om die oorsaak van die onverklaarbare pyn nek om te draai.

Die neurochirurge wat hulle hande in die van die Here plaas en dit waag in “tiger territory”, die teaterspanne, die susters, die hospitaalpersoneel… waar is woorde om vir hulle te sê wat hulle vir ons doen?

Hier is ek! Ek lewe! Ek word stadig maar seker gesond!

Halleluja!