CD's - Ek lewe

Wat 'n album!

'n Pragtige, drywende melodie se eerste note het in my kop gedraai vir etlike weke, voordat ek in Desember 1985, terwyl ek en my gesin op die langpad tussen Bloemfontein en George gery het vir vakansie, eensklaps uitgeroep het "Ek lewe!"

Oor die loop van 'n paar weke het die liriek vir die liedjie in plek geval, maar dit was van daardie eerste oomblik af seker wat die titel van my nuwe langspeler sou wees.

In Maart 1986 het ons begin opneem. Twee pragtige Christa Steyn nommers, 'n temaliedjie wat ek geskryf het vir die TV-reeks Hoekie vir eensames, en nog 'n paar van my eie skeppings is onder andere op die album ingesluit.

Miskien net so ietsie oor Icarus... Uit die Griekse mitologie het ek geweet van Icarus wat deur sy ambisie en eiewaan tot 'n val gebring is. Hy het met selfgemaakte vlerke wat met was aanmekaar gehou is, te na aan die son gevlieg, geval en verdrink.

'n Aangrypende houtsneewerk wat Icarus uitbeeld, het my die liedjie laat skryf, omdat ek dit op my van toepassing wou maak. Ons val eenvoudig wanneer ons in eie krag probeer wen.

Wanneer mens dit besef, en met die smeltende vlerk opreik, vind jy die Ware Krag en die reddende Regterhand van die Here waardeur mens - as jy maar net in Hom glo - nie kan val nie.