CD's - Kleinverlang

Afrikaanse musiek het vanaf die laat sewentigerjare ontsaglik opgang gemaak en, hoewel die Afrikaanse mark nog altyd klein was, was die luisteraars entoesiasties en ondersteunend.

Tog was daar in ons verspreidingsnetwerke maar voortdurend 'n opdraande stryd om genoegsame hoeveelhede plate en kassette in die winkels te kry. Oorwegend Engelse verteenwoordigers in ons land was gewoond aan die oorsese blitsverkopersmark, waar 'n treffer eensklaps verskyn en weer relatief vinnig verdwyn.

Afrikaanse musiek (wat eerder konsekwent verkoop oor 'n langer tydperk, solank die plate net op die rak is!), was in 1983 hoegenaamd nie 'n prioriteit nie. Etlike nuwe uitreikings van Afrikaanse kunstenaars, onder andere Kleinverlang, is eenvoudig nie deur MFP wat die monopolie het oor al die supermarkte, aangekoop vir verspreiding nie.