CD's - Neem my saam

My eerste langspeler is opgeneem en uitgereik in 1980, nadat ek die vorige jaar as die algehele wenner van die nasionale ATKV Crescendo aangewys is.

Die uitslag van Crescendo was vir my 'n absolute verrassing - ek vertel gou..

Die finaal is gehou in die eertydse Johannsesburg Stadskouburg, met sy massiewe verhoog en verskillende vlakke. Volgens die regěe, was vasgestel dat ek en my kitaartjie sal opstyg uit die dieptes, direk nadat ek deur die

seremoniemeester, Cobus Robinson, aangekondig is. Soos afgespreek, begin ek toe sing tesame met die opstygery.

Tot almal se konsternasie, beland van die klankkabels egter tussen die bewegende vlakke en 'n kabaal van kortsluitings begelei my eerste toonsetting, totdat daar teen my derde liedjie, net hier en daar 'n vreesaanjaende "snap, crackle en pop" oor die klankstelsel weergalm.

Ek onthou dat ek gerus was dat ek my bes gedoen het onder die omstandighede, maar dat ek nooit kon droom dat ek as wenner aangewys sou word, en dat dit my hele lewe sou draai na musiek nie.

Die heel eerste liedjie wat ek geskryf het op 14jarige ouderdom, "See en die wind", is op hierdie langspeler. Nog 'n besondere oomblik was toe ek Mynie Grové se liedjie "Seemeeu" gehoor het en toestemming by haar gekry het om dit op te neem. "Seemeeu" is na al die jare nog steeds in vele mense se harte.