CD's - Weerklink

WEERKLINK met Halleluja

Toe was dit weer tyd om te leer dat groot maatskappye se ratte oor jou kan maal, sonder dat enige teken van ‘n alarm in hulle yslike binnewerke afgaan!

Tyd het weer maande (en jare) afgemeet, voordat ek die vaste wil om WEERKLINK nuut uit te reik, kon verwesentlik.

Hierdie keer….ek individueel, ‘n solovlug.

Ek is terug na PROTRAX, my goeie vriende vir vele jare, waar ek sommer in alle opsigte tuisgekom het. Die verwerkings en opnames van die bonussnitte was ‘n vreugde, en hier net ‘n tikkie meer agtergrond.

David Fourie, die aantreklike donkerkop finalis van Pop Idols 2002, het my “Ek wil jou ken” pragtig opgeneem, wat vir my ‘n heerlike kompliment was.

Omdat ek self die nommer as bonussnit wou opneem, het Christie Schutte en ek besluit om - eerder as ‘n soortgelyke verwerking – iets anders aan te pak. As ‘n reël is ek gladnie vir die ‘wegbreek-idee’ nie: ‘n treffer se klank en karakter is na my mening nie iets waarmee mens sonder rede torring nie.

Die Skemerkelkie remix van “Ek wil jou ken” is beslis nuut op die oor(!), maar die ou bekende emosie lę nog tussen die plaat-krake en die terugleun-ritme.

“Ek Lewe” en “Neem my op Vlerke” is kookwater-lekker, binne die gevestigde karakter verwerk; “Halleluja” is heropgeneem, ook met lieflike agtergrondstemme, en van die volksliedjies wat ek al donkiejare sing, het plek gekry in die “Stoppie-klok Keurspel”.

Middel 2003 was dit sulke tyd. ‘n Dinamiese groep, BOWLINE (wat glad nie in doodlooptonnels beweeg waarin bekend en onbekend wegraak sonder dat iemand agterkom nie), versprei onafhanklike siele soos ek se CD’s, en wat ‘n genade!

Enkele maande later toe my eerste Geestelike album gereed was, was dit logies om weer kragte saam te snoer met Bowline, vir die verspreiding van SEËNBEDE.