PERSVRYSTELLING - 21 Augustus 2003

AANNELI VAN ROOYEN - “SEËNBEDE”

Anneli se eerste geestelike album - SEËNBEDE - sien uiteindelik die lig!

Sedert 1995 beweeg Anneli gereeld met Paas- en Kersprogramme op die geestelike musiekterrein en oor die jare het sy ‘n besondere band ontwikkel met liedere wat tot diep in die hart tref. Toe sy in 2001 die trefferlied “Halleluja” op haar album WEERKLINK ingesluit het, was die reaksie oorweldigend positief.
Die lied “Halleluja” het in 2002 ‘n ATKV LIER-toekenning ontvang en is ook ingesluit op Maranatha se “50 Grootste Geestelike Treffers” album, wat reeds dubbelgoue status verbygesteek het. 

Ook die gemeenskapsproduksie “Halleluja.. vir die lewe!” wat sedert 2002 landswyd aangebied word, is ‘n gesogte en geliefde program.

Op SEËNBEDE is die heropname van “Halleluja” weer ‘n hoogtepunt, terwyl die algehele opregtheid van die album ‘n deurlopende lyn vorm. Elke lied en vertolking spreek van verbintenis en betrokkenheid, iets wat mens lank bybly nadat die laaste noot van “I believe” wegdoof.

Die “Seënbede” is ‘n gebed wat iedereen vir hulle naastes sal toebid, terwyl “U Naam”, met nuwe woorde op die geliefde instrumentale nommer “Pavane”, ‘n aanbiddende en stille krag deurgee.

“Neem ons bede aan”, die lieflike gebed geskryf deur Greta Benadé, raak diep en helend, terwyl die deernisvolle “Pie Jesu” waarlik uitsonderlik in die hart kom lê.

“n Lied vir hierdie land” se liriek voer mens oor die lengte en breedte van Suid-Afrika en plaas ons in die Vaderhand, ongeag omstandighede.

Die “Oorwinningslied” klink waarlik soos oorwinning! Die pragtige Afrikaanse liriek van Piet Smit word gekombineer met die ou-Engelse vers en Glory Hallelujah refrein, wat mens as’t ware op jou voete bring.

Wanneer ons kyk na misdaad en geweld om ons, sal “Seën hierdie huis” werklik ‘n roerende gebedslied vir elke huis kan word en die “Jesus min my-keurspel” klim vertroostend, teer en bekend tot diep in die hart. 

Die kanon “Dona Nobis Pacem” word gestroop en in alle eenvoud ‘n kort juweel, en “Naggebed”, wat vroeër op WEERKLINK ingesluit is, bly eweneens aangrypend. Nog ‘n toonsetting deur Anneli vind sy weg na hierdie album en “Vroegherfs” van NP van Wyk Louw word hier ‘n klank-kleinood wat waarlik die betekenis van die woorde eerbiedig.

Die bekende “I believe”, wat die album afsluit, val splinternuut op die oor en verkry in die ryk verwerking en Anneli se vertolking, ‘n uitsonderlike krag en oortuiging.

Die verwerkings en produksie is op die hoogste standaard behartig deur Juliet en Christie Schutte van PROTRAX in Pretoria en hierdie album is ook vir hulle ‘n gloeiende getuigskrif.

Optredes , Besprekings en Video's: 
Elouna Ollewagen - (012) 460 7777 / 072 154 7596