PERSVRYSTELLING - Augustus 2003

ANNELI - “WEERKLINK met Halleluja!”

Anneli se album “WEERKLINK met Halleluja”, is pas heruitgereik - ‘n splinternuwe baadjie, met bonussnitte wat vir enige Anneli-aanhanger woema in die wiele sal sit! 

Anneli praat met die hoogste lof van haar verwerkers Juliet Schutte, Christie Schutte en Kevin Pienaar. Die 4 bonussnitte en heropname van Anneli se treffer “Halleluja”, is by Protrax in Pretoria gedoen.

“WEERKLINK met Halleluja” neem die luisteraar op reis: vanaf meesleurende, ritmiese werk soos “Vaandel van my drome”, tot die vrolike rooiwarm rissie remix “Jy is my 24 uur”. 

Die loflied ”Halleluja”, het reeds landswyd ‘n groot impak op luisteraars gemaak. Die nuwe opname raak selfs dieper aan die siel, waar agtergrondstemme die lofboodskap verder uitdra.

“Mali se lied”, die pragtige kunslied van S le Roux Marais en Leipoldt, is op ‘n sonderlinge wyse verwerk deur Juliet, en word treffend vertolk deur Anneli om nie net die verlange nie, maar ook die trots in Mali oor sy plek van herkoms te weerspieël.

Oorspronklike werk is die hele album vol en elke snit bied iets vir die hart. 
“Een in plaas van saam”, “Ek soek ‘n lyn”, “Weerklink” - luister maar! 
Die twee fyn toonstettings van Lucia Wels-gedigte is ‘n lafenis vir die gees terwyl die pragtige liedjie “Ou klavier” Philip Nel se bydrae is. “Dans in die maanlig”, met ‘n wêreldmusiek-inslag, is spesiaal vir Anneli geskryf deur die begaafde Mynie Grové.

Die supertreffers “Ek lewe” en “Neem my op vlerke” kook behoorlik, sonder om weg te breek van die aanslag wat dit in die eerste plek treffers gemaak het. 
David Fourie van Idols-faam het “Ek wil jou ken” pragtig opgeneem in ballade-styl, en omdat die liedjie reeds op haar lys van bonussnitte was, het Anneli en Christie Schutte besluit om ‘n ander invalshoek vir díe reuse treffer te bedink. Die skemerkelkie remix van “Ek wil jou ken” is ook ‘n lus vir die oor.

Die “Stoppie-klok keurspel” verklap Anneli se deurleefde verbintenis met geliefde volksliedjies en sit ‘n wippie in die stap en ‘n veertjie in die hoed! 

Hierdie puik uitreiking verdien ‘n plek in elke Afrikaanse musiekliefhebber se CD-speler. Gaan haal hom by elke goeie musiekwinkel!

Optredes , Besprekings en Video's: 
Elouna Ollewagen - (012) 460 7777 / 072 154 7596